“Raak ontslae van Mugabe” sê Blair
2009-07-22 14:53
Berlyn – Voormalige Britse Eerste Minister Tony Blair glo dat Zimbabwe se president, Robert Mugabe, van sy amp onthef moet word.
Tydens ’n onderhoud met die Duitse tydskrif Stern het hy gesê: "Ek dink as daar van hom ontslae geraak kan word, behoort dit gedoen te word. Hy het sy land verwoes. Daar is baie mense in sy land wat gesterf het as gevolg van wat hy gedoen het.
"Indien ’n mens kan, behoort jy dit te doen, maar jy moet natuurlik versigtig en binne sekere beperkinge optree," het hy aan Stern gesê.
Blair het ook kritiek verwerp dat sy noue bande met die VSA en Israel hom onbevoeg maak vir sy rol as bemiddelaar tussen Israel en Palestynse-groepe.
Wat sy land se rol in die Iraq-oorlog betref het hy weereens gesê hy is nie spyt oor die besluit om Saddam Hoesein se bewind omver te werp nie.
Sapa-AFP