Presidensie stil oor Dlamini-Zuma-pos
2012-07-16 10:51
Johannesburg – Die presidensie sal eers ná die amptelike bekendmaking van Nkosazana Dlamini-Zuma se verkiesing as kommissie-voorsitter van die Afrika Unie (AU), op haar aanstalling reageer.
“Die AU moet nog die uitslae amptelik bekend maak. Tot dan sal dit onprofessioneel wees om daarop komentaar te lewer,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, gesê.
Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, het volgens berigte meer stemme as die voormalige AU kommissie-voorsitter, Jean Ping, gekry.
Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het vroeër gesê Dlamini-Zuma sal seker maak dat die AU se besluite geïmplimenteer word.
“Daar gaan meer aanspreeklikheid wees, beter implimentering van besluite wat deur staatshoofde gemaak is,” het Nkoana-Mashabane aan SAfm oor Dlamini-Zuma gesê.
Nkoana-Mashabane sê Dlamini-Zuma se verkiesing is ‘n oorwinning vir vroue.
Dlamini-Zuma sal deur die AU “vroeë waarskuwingstelsels versterk asook demokrasie, wetgewing en eenheid voorstaan,” het Nkoana-Mashabane gesê.
Dié kommissie is die sekretariaat van die AU wat met uitvoerende funksies vertrou word.
Op die AU se webtuiste verduidelik hy dat die kommissie ‘n sentrale rol in die AU se daaglikse bestuur speel. Dit verteenwoordig die Unie, verdedig sy bates en koördineer die Unie se strategiese planne.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA