Pous vra wêreld om uit te reik na Somalië
2011-08-01 10:09
Castel Gandolfo, Italië – Terwyl die Afrika-unie gereed maak om op 9 Augustus ‘n skenkingskonferensie te hou oor die droogte in die Horing van Afrika, het die pous Sondag die wêreld aangemoedig om nie “onverskillig” te wees oor dié krisis nie.
Pous Benedictus XVI het 'n toespraak gelewer oor miljoene mense wat swaarkry in die streke wat deur die ergste droogte in dekades getref is.
Honderde pelgrims het na die pous se toespraak by sy somertuiste in Castel Gandolfo, net buite Rome, gaan luister.
"Ons moet nie onverskillig wees oor die tragedie van die honger en dors nie," het hy gesê.
“Baie broers en susters in die Horing van Afrika kry swaar weens die dramatiese gevolge van die hongersnood, wat erger gemaak word deur oorlog en die tekort aan stabiele instellings,” het hy gesê.
Hy het gevra vir “deernis” en “broederliefde.”
Die Verenigde Nasies het ‘n hongersnood in twee streke in die suide van Somalië verklaar.
Die effek van die droogte word egter wyer oor die land heen gevoel. Gebiede in Djibouti, Ethiopië, Kenia en Uganda word ook daardeur geraak.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP