Polisielede vas vir moord
2010-03-02 10:06
Abuja - ‘n “Noemenswaardige aantal” Nigeriese polisiebeamptes is in hegtenis geneem vir wederregtelike moorde (sogenaamde 'teikenmoorde') op lede van die Boko Haram-sekte in 2009, berig die BBC.
Volgens senior polisielede sou nog wetstoepassers in hegtenis geneem word vir die wederregtelike moorde op lede van dié sekte.
Sewentien beamptes word sover aangehou, berig AP.
Lede van Boko Haram, ’n militante beweging wat sharia- of Islamitiese wet in die land wil instel, het verlede jaar ‘n polisiestasie in die noordelike stad Maiduguri aangeval.
Die aanval het tot geweldadige botsings tussen lede van die sekte en die polisie gelei.
Honderde mense, meestal Boko Haram-lede, is tydens die botsings oorlede.
Mohammed Yusuf, die leier van Boko Haram (ook bekend as Nigerië se Taliban), is onder verdagte omstandighede dood ná hy tydens 'n geveg met die polisie in hegtenis geneem is.
Hy is lewendig deur die weermag oorhandig, maar ‘n senior polisiebeampte het gesê Yusuf is doodgeskiet toe hy probeer ontsnap het.
Volgens die BBC se Jimeh Saleh word die Nigeriese polisie dikwels van sulke wederregtelike moorde beskuldig. Min wetstoepassers word egter vir dié sluipmoorde in hegtenis geneem.
Kliek hier vir die volledige storie.