Petrolprys in Nigerië verlaag
2012-01-16 12:45
Lagos – Nigerië se president, Goodluck Jonathan, het Maandag aangekondig dat die petrolprys in die land verlaag sal word in ‘n poging om ‘n landswye staking wat nou in sy tweede week is te beëindig.
Jonathan het die nuus tydens ‘n nasionale toespraak wat op die televisie uitgesaai is, gedeel.
Hy was verlede week grotendeels stil te midde die staking en betogings wat Afrika se grootste olievervaardiger geruk het.
Die president se aankondiging dat brandstofpryse met sowat 30% gesny sal word kom ná gesprekke met vakbonde wat nie daarin geslaag het om die dispuut op te los nie.
Hy het beweer dat die betogings “gekaap” is deur partye wat “verdeeldheid, anargie en onsekerheid” wil bevorder.
Vakbonde het onderneem om voort te gaan met die staking, alhoewel hulle straatbetogings afgelas het as gevolg van veiligheidsvrese.
“Gegewe die swaarkry wat Nigeriërs deurmaak en ná baie oorwegings en gesprekke met staatsgoewerneurs en die leierskap van die Nasionale Vergadering, het die regering die pompprys van petrol na 97 naira (sowat R4,90) per liter afgebring.”
“Ek moedig arbeidsleiers aan om die staking af te las en om terug te keer werk toe,” het hy bygevoeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP