Passasiers vermis na boot sink
2009-09-19 16:52
Madrid - Spaanse en Morokkaanse reddingswerkers is opsoek na oorlewendes nadat ‘n boot vroeg Saterdagoggend aan die kus van Morokko omgedop en gesink het.
Die waterpatrollie van die polisie het 11 oorlewendes gered nadat ‘n helikopter van die plaaslike burgerwag die sinkende boot gewaar het.
Luidens ‘n verklaring het reddingswerkers die Royal Moroccan-vloot in kennis gestel.
Die liggame van sewe vrouens en een man is uit die water gehaal.
Die Spaanse reddingsdienste het gesê vliegtuie, bote, helikopters en duikers het talle liggame uit die water gehaal en is steeds opsoek na moontlike oorlewendes.
Na bewering was daar sowat 60 migrante van Afrika op die vervalle boot wat onwettig passasiers vervoer het, het ‘n Morokkaanse radiostasie berig.
Die klein opblaasboot het naby die eiland van Perejil gesink.
Luidens die verklaring is die oorlewendes na Morokko geneem.
Migrante van Afrika word daagliks onwettig deur vervalle bote na Europese bestemmings vervoer waar daar hopelik ‘n beter lewe en inkomste op hulle wag.
- Sapa - AP