Noodwerker aangerand want regeringsman wil nie asem toets
2010-11-11 12:37
Windhoek - Lede van ’n vrywillige nooddiens is by ’n ongelukstoneel in Windhoek aangerand en met kru en rassistiese aanmerkings toegesnou om te verhoed dat die permanente sekretaris van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou, Andrew Ndishishi, se bloedalkoholvlakke getoets word.
Klagte van regsverydeling en die verset teen ’n burgerlike inhegtenisneming is voorts teen Andrew Ndishishi gelê en klagte van aanranding, naamskending en regsverydeling teen die hoof van die gesondheidsdienste van die Windhoek munisipaliteit, Mary-Anne Kahitu, by die polisie aanhangig gemaak.
Die ongeluk het volgens ooggetuies omstreeks 20:00 Dinsdag plaasgevind toe Ndishishi oor ’n rooi verkeerslig in Windhoek gery en ’n botsing veroorsaak het.
Sean Naudé, wat vir die vrywillige noodhulpdiens werk, sê hy het probeer om Ndishishi vir beserings te ondersoek en kon duidelik aan sy asem ruik dat hy alkoholiese drank ingeneem het.
Hy het ook opgemerk dat die senior regeringslid nie behoorlik op sy voete kon staan nie en dat die bestuurder van 'n Mercedes Benz wat op die toneel gestop het hom moes help om in en uit die Jeep te klim.
Die bestuurder die Jeep Cherokee het ook op die toneel gestop, en dit het gelyk asof die voertuie in konvooi gery het.
Ndishishi het in die nutsvoertuig van die toneel probeer vlug.
Naudé het die voertuig probeer stop, maar is drie keer gestamp totdat hy padgegee het.
Ndishishi ontken hy was ooit op die toneel van die ongeluk.
Lees die volledige storie in Republikein.