Oud-president van Tunisië hof toe vir wapenhandel
2011-07-04 15:09
Tunis – Zine el Abidine Ben Ali, die voormalige president van Tunisië, gaan Maandag in absentia op aanklagte van dwelm- en wapenhandel in die hof gedaag word.
Dit is die tweede hofsaak waarby dié voormalige leier betrek word. Dit sou verlede week reeds plaasgevind het maar is egter uitgestel weens ‘n staking van regters.
Ben Ali en sy vrou, Leila Trabelsi, is reeds tot 35 jaar tronkstraf gevonnis vir die wanbesteding van openbare fondse nadat die polisie groot bedrae geld en juwele in hulle paleis gevind het.
Die hofsaak het plaasgevind in die paartjie se afwesigheid nadat hulle in Januarie na Saoedi-Arabië gevlug het.
Ben Ali is daarvan beskuldig dat hy dwelms en wapens by sy paleis in die Carthage-omgewing geberg het. Hy word ook deur aanklagte van dwelmhandel in die gesig gestaar.
Hosni Beji, sy regsverteenwoordiger, het gesê die aanklagtes in “onredelik.”
“Hoe kan jy jouself verbeel dat ‘n president 2 kg dagga sal besit met die doel om dit te verkoop?” het hy gesê.
Beji het ook gesê dat die meerderheid van die wapens wat in die paleis gekry is, geskenke van internasionale beamptes is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP