Optimisme oor bedeling in S-Soedan
2011-07-09 07:59
Pretoria – Wanneer Suid-Soedan Saterdag Afrika se nuutste onafhanklike land word, lui dit nie net op staatkundige vlak ’n nuwe bedeling in nie, maar ook op godsdienstige vlak.
Norman Johnson, hoof van die Soedan-steunnetwerk wat die verkondiging van die Evangelie in dié land ondersteun, is optimisties oor die toekoms van die Christendom in die noorde én in die suide.
Johnson sê waar Suid-Soedan 50 jaar lank onder Islamitiese verdrukking gestaan het, gaan hulle nou godsdiensvryheid hê.
Suid-Soedan sal amptelik ’n sekulêre staat wees, maar die Christendom het ’n baie sterk posisie. Die nuwe volkslied gee erkenning aan God en die kerke beklee ’n baie sterk posisie in die samelewing.
In die oorblywende (Noord-)Soedan sal die Christene ’n klein minderheid in ’n Moslemland wees, maar volgens Johnson is hulle baie dapper.
In díé land is daar kragte wat in verskillende rigtings trek. Aan die een kant is daar ’n drukgroep wat ten gunste is van die streng toepassing van Islamitiese sjaria-wetgewing. Aan die ander kant is daar ook stemme wat pleit vir ’n oop, demokratiese samelewing.
Johnson sê dinge kan vir Christene baie moeiliker word, maar dis nog onduidelik hoe die situasie gaan ontwikkel.
Hy het egter groot bewondering vir die moed waarmee Christene in die land hul oortuigings uitleef.
Johnson sê vroeër het hulle gedink hulle moet sendelinge in die Soedan ondersteun, maar die inheemse kerk neem nou self die leiding.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad