Opposisieleier wen Zambiese verkiesing
2011-09-23 08:46
Lusaka – Michael Sata van die Patriotiese Front, die opposisiekandidaat in die Zambiese presidentsverkiesing, het die verkiesing gewen en die party wat die land die afgelope 20 jaar regeer het, onttroon, het RSG berig.
Met 95 % van die stemme getel, sê die verkiesingskommissie president Rupiah Banda van die Movement for Multi Party Democracy-party kan nie meer inhaal nie.
Sata het belowe om Zambië, wat een van die wêreld se grootste koper-produsente is, se lot te verander.
Zambiërs het Dinsdag in presidensiële, parlementêre en plaaslike verkiesings gestem. Dit is die vierde presidentsverkiesing waaraan Sata deelgeneem het.
Die verkiesingswaarnemers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het intussen die verkiesing in Zambië as "vry, regverdig en geloofwaardig" verklaar.
Vroeër het die Europese Unie se waarnemingspan ook gesê die verkiesing was "deursigtig en geloofwaardig in weerwil van enkele voorvalle."
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG