Onwettige Zimbabwiërs gaan gedeporteer word
2011-07-01 12:12
Johannesburg – Zimbabwiese burgers sonder die nodige dokumente wat teen die einde van Julie nog in Suid-Afrika is, sal gedeporteer word, berig RSG.
Jacob Mamabolo, die hoof van die Zimbabwiese dokumenteprojek by die departement van binnelandse sake, het gesê die regering het alle Zimbabwiërs wat in besit is van onwettige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente gevra om hulle sonder vervolging aan die departement terug te besorg.
Volgens statistiek is daar sowat 1,5 miljoen Zimbabwiërs in die land.
Teen die spertyd van 31 Desember 2010 het slegs 275 000 van hulle geregistreer om hulle verblyf te wettig.
Die Departement het gesê net meer as 133 00 permitte is tot dusver aan Zimbabwiërs uitgereik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG