Ontvoerde gyselaars lewe nog, sê Aqim
2011-10-31 14:32
Bamako – ‘n Italianer en twee Spanjaarde wat ‘n week gelede in Algerië ontvoer is, lewe nog en word deur al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb aangehou, het ‘n tussenganger aan AFP gesê nadat hy kontak met die ontvoerders gehad het.
“Die drie Europese gyselaars lewe nog. Een van die ontvoerders, ‘n lid van Aqim, het die inligting aan ons gegee,” het die man gesê. Hy wou nie sy naam bekend maak nie.
“Hulle het gesê hulle sal hulle eise later bekendmaak, maar vir nou is die gyselaars gesond en lewendig.”
Hy het gesê dat die lede van Aqim die Sahrawi-vlugtelingskamp in Tudouf binne gegaan het. Lede van die Polisario Front het egter wapens aan hulle gegee en hulle gehelp om die gyselaars, wat in die kamp gewerk het, te ontvoer.
Die Polisario Front van die westelike Sahara-streek, wat deur Algerië ondersteun word, is in ‘n stryd om sy grondgebied onafhanklik van Marokko te laat verklaar. Sy regering is in vlugtelingskampe gebaseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP