Ontploffing ruk kantoor van Mugabe se party
2011-12-29 13:37
Harare – ‘n Ontploffing het by die provinsiale kantoor van die Zimbabwiese president Robert Mugabe se Zanu-PF-party in Gweru plaasgevind, met slegs skade aan die eiendom wat aangemeld is, het die staatmedia Donderdag berig.
“Ons ondersoek nog die oorsaak van die ontploffing” wat laat Dinsdag plaasgevind het, het speurder Patrick Chademana aan The Herald gesê.
Hy het bygevoeg dat niemand beseer is in die ontploffing nie.
Gweru is 275 km suid van die hoofstad Harare en die ontploffing het die gebou se vensters uitgeskiet.
Passmore Washaya, Zanu-PF se provinsiale administrateur, het gesê die ontploffing was “’n daad van aggressie deur ons vyande, veral die MDC.”
Die MDC, wat deur die land se eerste minister en Mugabe se koalisieleier Morgan Tsvangirai gelei word, het die aantygings as ongegrond bestempel.
Teëbeskuldigings het in onlangse weke tussen die partye vererger en die land sal na verwagting in 2012 weer verkiesings hou.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP