Ontploffing in Nigerië dood 2
2011-08-05 12:27
Kano – Twee mense is dood na ‘n bomontploffing en ‘n skietgeveg tussen soldate en ‘n Islamitiese sekte in die noorde van Nigerië, het ‘n woordvoerder van die weermag gesê.
“Ongeveer 08:20 was daar ‘n ontploffing by die UBA-bank in Bagastraat. Dit is gevolg deur ‘n skietery deur lede van die Boko Haram-sekte,” het lt.kol. Hassan Mohammed in ‘n verklaring gesê.
“Lede van die gesamentlike taakmag (JTF) het na die toneel gehaas en gesien hoe twee mense doodgeskiet en ander beseer is. Die beseerdes is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling,” het hy gesê.
‘n Inwoner wat op die toneel was, het egter ‘n ander weergawe van die gebeure gedeel.
Mustapha Ibrahim, ‘n handelaar, het gesê dat soldate van die JTF ná die ontploffings sonder meer begin skiet het. Dit is glo die soldate wat die twee slagoffers doodgeskiet en talle ander beseer het.
'n Woordvoerder van die JTF het dit ontken.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP