Ontbind parlement, eis Egiptiese betogers
2011-02-10 08:00
Kaïro. – Versterk deur die grootste dag van protes sedert hul veldtog
om pres. Hosni Moebarak uit die kussings te lig begin het, het
Egiptiese betogers gister probeer om beweging na en van die parlement te
versper.
Duisende betogers kampeer steeds op hul “bevryde” deel van
Tahrir-plein in die middestad, terwyl luidsprekers slagspreuke soos
“Moenie moeg wees nie! Moenie moeg wees nie! Vryheid is nie gratis nie!”
uitgebasuin het.
Die vorige aand is hulle ondersteun deur honderdduisende mense op
die grootste aand van byeenkomste tot dusver in die twee weke lange
betogings om van Moebarak ná 30 jaar aan die bewind ontslae te raak.
Dinsdagaand was die gebied gepak ondanks ’n aandklokreël. Die
betogers is geïnspireer en gemobiliseer deur jong Egiptiese
kuberaktiviste soos die Google-grootkop Wael Ghonim, wat die
betogings op sy Facebook-profiel aangevuur het en daarna vir 12 dae
geblinddoek deur die owerhede aangehou is.
Hy is Maandag vrygelaat en is Dinsdagaand ’n helde-ontvangs by die nuwe protesbyeenkoms gegee.
“Ons is almal Egiptenare, Christene en Moslems. Almal wat iets anders sê, probeer ons verdeel, probeer ons bang maak vir mekaar.
“Dit is die regime se idee,” het Abdelrahman Sami, ’n 24-jarige dokter, gesê.
Nagenoeg 1000 mense het gister na die parlement geloop om LP’s se
bedankings te eis. Die protes was vreedsaam, maar die betogers het
onderneem hulle sal nie padgee tot die parlement ontbind is nie.
“Daar kan geen onderhandelings wees totdat hy (Moebarak) loop nie.
Daarna kan ons oor allerhande dinge praat,” het Essam Magdi, ’n
35-jarige prokureur, gesê. Hy slaap sedert 28 Januarie onder ’n
weermagtenk om te keer dat dit beweeg.
Adj.pres. Joe Biden van die VSA het Dinsdag ’n hernude beroep op
“onmiddellike” en “onomkeerbare” politieke verandering gedoen in ’n
telefoniese oproep na mnr. Omar Soeleiman, die nuwe Egiptiese
adjunkpresident. Die veranderinge moet ’n breër nasionale dialoog met
die opposisie insluit, het ’n verklaring van die Withuis gelui.
Die teenwoordigheid van die Moslem-Broederskap by die betogings het
sommige Westerse nasies ongemaklik gemaak en hulle vrees die
pro-demokrasiebeweging kan deur die Islamiste gekaap word, maar die
betogers dring aan hul doelwit is vrye verkiesings waaraan almal kan
deelneem. “Ons soek nie ’n militêre staat of ’n godsdienstige staat nie.
Ons soek ’n staat met instellings en verkiesings,” het mnr. Atif Awad
(34), ’n timmerman en lid van die Broederskap, gesê.
Rusland het Dinsdag ’n beroep op die Verenigde Nasies se
Veiligheidsraad gedoen om ’n missie na die Midde-Ooste te stuur om die
vredesproses tussen die Palestyne en Israel asook die onrus in Egipte te
ondersoek.
Die Veiligheidsraad het die streek drie dekades gelede laas besoek.
Volg Nuus24 op
Twitter.
- Sapa - AFP