'Ons sal bomplanters vastrek'
2010-07-13 08:11
Johannesburg - ’n Somaliese militante groep wat bande met Al-Kaïda het, het Maandag verantwoordelikheid vir die bomaanvalle in Uganda aanvaar.
Al-Shabaab se aanvalle Sondag in die hoofstad, Kampala, het 73 mense se lewens geëis en 70 mense ernstig beseer.
Pres. Yoweri Museveni van Uganda het Maandag gesê sy regering sal nie rus voor die bomplanters aangekeer is nie.
Ali Mohamud Rage, Al-Shabaab se woordvoerder, het aan Reuters erken hulle was agter die aanvalle en het die individue wat dit uitgevoer het, bedank.
Die militantegroep Al-Shabaab het reeds vroeër met ’n aanval in Uganda gedreig.
Dié militante voel Museveni se regering help om ’n regering in Mogadisjoe te onderhou wat in werklikheid net die handlangers van Westerse lande is.
Uganda se troepe is in Somalië onder die vaandel van die Afrika-unie om vrede te bewerkstellig.
Dit is die eerste keer dat Al-Shabaab so ’n aanval buite Somalië se landsgrense uitgevoer het.
Talle sokkerkykers by die Ethiopian Village-restaurant en die Lugogo-rugbyklub was Sondagaand besig om die Wêreldbeker-eindstryd op TV te kyk toe die twee bomme gelyktydig in die rustyd ontplof het.
Volgens die Suid-Afrikaanse regering weet hy nog nie of enige Suid-Afrikaners dood is nie.
Minstens een Amerikaner is in die aanvalle dood en talle is beseer.
Hillary Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het in ’n verklaring gesê die VSA sal saam met Uganda werk om die bomplanters aan te keer.
Lindah Nabusayi, Museveni se woordvoerder, het Maandag gesê die president was geskok oor die skade wat deur die twee ontploffings aangerig is.
Hy het ook die slagoffers in die Mulago-hospitaal in die stad besoek.
“Waarom wil mense ander teiken wat rustig sokker kyk en hulself geniet? As hulle wil veg, moet hulle na soldate soek,” het Museveni in ’n verklaring gesê.
“Ons sal hulle soek en vastrek waar hulle ook al is.”
Volgens Mami Mengesha, eienaar van die Ethiopiese restaurant, het sy kort ná die ontploffing 16 lyke voor haar sien lê.
Pres. Jacob Zuma het Maandag in ’n verklaring gesê Suid-Afrika veroordeel die aanvalle.
- Die Burger