‘Ons is deur die ore gewerk’
2011-10-30 07:04
Herman Scholtz en Jacques Pauw
Johannesburg - Muammar Gaddafi se Suid-Afrikaanse huursoldate was net pionne wat “deur die ore gewerk is” as deel van ’n internasionale sameswering teen die Libiese leier.
Die “toeval” van die gebeure was so oorweldigend dat rolspelers en intelligensiebronne tot die gevolgtrekking gekom het dat daar groter magte agter die skerms gewerk het as net ’n groep soldate wat Gaddafi Suid-Afrika toe moes neem.
Eerstens het die Suid-Afrikaners in die hoofstad, Tripoli, aangekom en hulle moes padlangs na Sirte ry om by Gaddafi aan te sluit.
Hoewel die Libiese paaie maande lank ’n oorlogsveld was, het niemand die huursoldate afgetrek of in ’n padversperring gekonfronteer nie.
Hulle het baie maklik in die land gekom en tot by Gaddafi se presiese ligging gereis – die skuilplek waarna die oorgangsraad naarstig op soek was.
Danie Odendaal, een van die Suid-Afrikaners, sê daar was later ’n lugaanval op die gebou waarin Gaddafi geskuil het.
Dit het daarop gedui dat die Navo-magte geweet het waar hy is.
“Ek het toe gedink hierdie is my einde. Hulle het die k** uit die plek geskiet.”
Maar die bisarre deel, sê hy, is dat die lugaanval skielik opgehou het “vir tot so lank as 20 minute”.
Dié skietstilstand is deur die huursoldate se bevelvoerders gebruik vir ’n opdrag om in konvooie uit Sirte te vlug.
Dit het Odendaal onrustig gestem dat daar “bitter min gepantserde voertuie” was waarmee hulle moes werk.
Nóg ’n kommer was die vae besonderhede oor die planne. Die amptelike plan was om Gaddafi na Niger te vervoer, maar dit is aan die suidelike grens en ver om in konvooi te ry sonder om aangeval te word.
Die konvooi het uit die stad gejaag en Navo het weer met presiesheid losgebrand, waarna die rebelle dadelik op die toneel was om Gaddafi te vang.
Terwyl Gaddafi se lojale soldate vermoor, aangerand of gevange geneem is, is die buitelandse huursoldate laat gaan.
“Get out! Get out!” het die soldate vir die buitelanders geskree, onthou Odendaal. Hy kan nie die moontlikheid uitsluit dat die rebelle geweet het die huursoldate is eintlik hul vriende nie.
Ook nie dat die rebelle geweet het die huursoldate is deel van ’n groter plan om Gaddafi op ’n skinkbord aan hulle te oorhandig.
Dit was inderdaad ’n soldaat van die oorgangsregering wat die gewonde Odendaal gehelp vlug het.
Dié het hom in veiligheid gebring, waarvandaan hy Egipte toe kon vlieg vir mediese behandeling. Hy het ’n beenwond opgedoen in die aanval.
Intelligensiebronne sê daar is geen aanduiding dat enige Suid-Afrikaanse huursoldate gevange geneem is of mishandel word nie, hoewel ’n mens sou verwag dat soldate wat Gaddafi gehelp het ook geteiken sou word.
Dit is dáárom dat daar nie ’n grootskaalse en openbare reddingspoging van stapel gestuur is vir die Suid-Afrikaners nie.
Sommige bly glo in hotelle.
Odendaal glo ook “iemand” het hulle uitverkoop. “Hulle het ons deur die ore gewerk.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport