Ongeluk eis 32 in Angola
2009-11-13 04:49
Luanda, Angola – Twee-en-dertig mense is dood en 42 beseer toe ‘n vragmotor in die noorde van Angola omgeslaan het, het staatsradio berig.
Die slagoffers was onder 80 Angolese wat onlangs die Demokratiese Republiek van die Kongo moes verlaat na ‘n golf van deporterings tussen die twee lande uitgebreek het.
Die ongeluk het Donderdag in die vroeë oggendure plaasgevind toe die groep na ‘n tydelike kamp naby die grens van die DRK in die stad Uige vervoer is.
‘n Kommissie is saamgestel om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek, het die National Radio of Angola berig.
Die DRK het vroeg in Oktober begin om Angolese uit die land te deporteer, insluitende die met vlugtelingstatus wat al vir dekades daar woon. Dit is in reaksie op Angola se aanhoudende deportering van Kongolese immigrante wat die grens oorsteek om onwettig te werk.
Die amptelike deporterings is verby, maar meer as 50 000 Angolese het in die laaste ses weke teruggekeer. Baie van hulle sê hulle voel nie veilig in die DRK nie.
- Sapa-AFP