Ondersteuning vir Gbagbo kwyn
2011-07-19 13:36
Yamoussoukro – Magte lojaal aan Laurent Gbagbo, die voormalige president van die Ivoorkus, is nie meer ‘n bedreiging vir vrede en orde in dié land nie, het die hoof van die Verenigde Nasies-sending in die Ivoorkus (Unoci) Maandag gesê.
“Dit wil grotendeels voorkom of die vorige pro-Gbagbo-elemente en hulle ondersteuners nie meer groot uitdagings vir wet en orde in die land sal inhou nie. ‘n Moeilike hoofstuk in die geskiedenis van die Ivoorkus is nou afgehandel,” het Choi Young-Jin, die hoof van die Unoci, gesê.
Choi het aan die VN se Veiligheidsraad gesê die verdwyning van ondersteuning vir Gbagbo “is goed vir moontlike versoening in die land.”
Ondanks die feit dat magte lojaal aan Gbagbo minder word, is daar steeds ‘n “behoefte aan vinnige herstel van wet en orde” as ‘n voorwaarde vir versoening en die herstel van die ekonomie.
Hy het ook gesê dat daar in die weste van die land 'n “tekort aan sekuriteit" gesien kan word, maar dat die meeste kenners reken dat die land op ‘n positiewe wyse aan’t herstel is.
Choi het gesê die VN sal saam met die Ivoorkus werk om 'n parlementêre verkiesing vir later vanjaar te reël.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP