Ondersoek: Malawiese aktivis was vermoor
2012-10-10 13:32
Blantyre – Robert Chasowa, ‘n Malawiese student en aktivis, is vermoor en het nie selfmoord gepleeg nie, het ‘n ondersoekkomitee bevind.
Die polisie het vroeër beweer Chasowa, ‘n kritikus van die ontslape president Bingu wa Mutharika, sy eie lewe geneem het.
Die polisie het selfs selfmoordbriewe gehad.
Chasowa, ‘n ingenieurstudent wat baie krities van Mutharika se regime was, se lyk is in September verlede jaar by sy kampus gevind.
Andrew Nyirenda, ‘n regter by die appèlhof, het egter beslis dat die selfmoordbriewe gefabriseer is. Nyirenda is die hoof van die komitee wat Chasowa se dood ondersoek.
Joyce Banda, Malawi se president, is twee dae na Mutharika se dood op 5 April as president beëdig, en het onmiddelik vir ‘n ondersoek na Chasowa se dood gevra.
“Laat die bloed van Robert Chasowa ‘n les vir almal wees, om iemand se lewe te neem is nie ‘n ligte kwessie nie,” het Banda in ‘n verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA