Omvang van Gaddafi se rykdom verstom
2011-10-22 10:21
Washington – Die voormalige Libiese leier Muammar Gaddafi het deur die jare meer as $200 miljard (sowat R1,6 biljoen) in sy eie sak gesteek – dubbel soveel as wat voorheen geskat is.
Hy het diié geld – wat neerkom op 'n bedrag van sowat $30 000 (R240 000) per Libiese burger – in die vorm van bankrekenings, eiendom en beleggings oor die wêreld weggesteek, berig die Los Angeles Times.
Sowat 'n derde van Libië se burgers leef in armoede.
Nuwe beramings van die voormalige dktator se versteekte kontant, goudreserwes en beleggings is "verstommend," het een kenner wat baterekords ondersoek het volgens dié koerant gesê.
"Niemand het werklik die omvang daarvan besef nie."
Hoewel Gaddafi se buitelandse beleggings 'n potensiële goudmyn vir Libië se tussentydse regering kan wees, vind die Nasionale Oorgangsraad dit moeilik om toegang tot dié bates te kry omdat dit deur organisasies soos die Verenigde Nasies gevries is.
Amerikaanse en Europese organisasies het Vrydag gesê dat hulle van plan is om die bates so vinnig as moontlik aan Libië se tussentydse heersers beskikbaar te stel.
– Lees hier meer.