Omstrede Soedannese president besoek China
2011-06-27 10:19
Beijing – Ten spyte van internasionale druk sal China Maandag die omstrede president van Soedan, Omar al-Bashir, vir vier dae lank in die land verwelkom.
Die internasionale strafhof het ‘n lasbrief uitgereik vir al-Bashir se inhegtenisname vir volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Darfoer, waar geweldpleging al sedert 2003 voortduur.
Dis die eerste lasbrief van sy soort wat vir ‘n president uitgereik is.
Die president het voor sy besoek ‘n onderhoud met China se Xinhua-nuusagentskap gehad.
“Ons sien China as 'n strategiese vennoot vir Soedan in verskeie velde, insluitende die politieke, ekonomiese, kommersiële en kulturele velde,” het al-Bashir in die onderhoud, wat Sondag gepubliseer is, gesê.
“China meng nie in die interne handelinge van ander in nie.”
Die menseregtegroep Human Rights Watch het verlede week China se uitnodiging aan al-Bashir bestempel as “’n belediging vir slagoffers van grusame misdade wat in Darfoer gepleeg is”.
– Lees meer by CNN
– Volg Nuus24 op Twitter