Olifante in Afrika kan verdwyn
2009-10-28 09:37
Johannesburg – Altesaam 20 jaar later en 104 olifante word steeds daagliks vir hul ivoor afgemaai. As die slagting voortduur, gaan olifante binne die volgende 15 jaar in groot dele van Afrika verdwyn.
Die 20ste “verjaardag” van die verbod op die handeldryf in ivoor wat op 18 Oktober 1989 deur al die lidlande van Cites (konvensie oor handel in bedreigde spesies) onderteken is, is onlangs gevier.
Luidens ’n verklaring van Ifaw (Internasionale Fonds vir Dierewelsyn) het ’n verslag wat in Junie vanjaar bekend gestel is, bevind dat nog 104 olifante per dag vir hul tande afgemaai word. Daar was byvoorbeeld in 1995 3 885 olifante in Tsjad se Zakouma- Nasionale Park. Vanjaar is daar net 617.
Volgens Ifaw wek die enkele wettige veilings van ivoor die idee by smokkelhandelaars dat daar nog baie geld uit onwettige ivoorhandel te maak is. Daar was in 1999 en in November 2008 wettige veilings waarop lande wat ivoor opgegaar het dit aan goedgekeurde kopers van die hand kon sit.
Dit wil egter voorkom asof die veilings met ’n toename in wildstropery van olifante saamval.
Dit is duidelik dat die verbod op die handeldryf in ivoor steeds nie olifante in sekere Afrika-lande beskerm nie en daar moet dus ’n algehele moratorium op die verkoop van ivoor geplaas word, lui die verklaring. Die volgende sitting van Cites, waar die ivoorhandel bespreek gaan word, is in Maart aanstaande jaar. – Wolfram Zwecker
- Volksblad