Okah het glo nog bomme geplant
2010-11-11 11:47
Abuja, Nigerië - Henry Okah, die man wat daarvan verdink word dat hy verantwoordelik is vir die twee motorbomme wat in Oktober vanjaar die lewe van 12 mense in die Nigeriese hoofstad geëis het, is glo ook verantwoordelik vir die aanval op die olieryke stad Warri in Maart.
So het dié land se agentskap vir staatsveiligheid (SSS) Woensdag aangevoer.
Okah, wat tans in Suid-Afrika is, staar aanklagte van sameswering en terrorisme, wat verband hou met die motorbomme in Abuja op 1 Oktober vanjaar, in die gesig.
Daar word nou beweer hy is ook die meesterbrein agter die bomme wat in Warri afgegaan het tydens 'n saamtrek van die land se regeringsamptenare.
Okah word verbind aan die Beweging vir die Bevryding van die Niger-delta (Mend), wat veg vir 'n regverdige verspreiding van oliewinste.
Die groep is glo 'n vaandel vir bendes.
"Okah het van Suid-Afrika gekom vir die bomaanval in Warri, waar hy die motors aangekoop het, die plofstoftoestelle daaraan vasgemaak het, en daarna na die huis van een van sy mede-verdagtes gery het," aldus ‘n woordvoerder van die SSS, Marilyn Ogar.
"Op 14 Maart het hy die land verlaat om sodoende 'n alibi vir homself te skep," het sy bygevoeg.
Mend het verantwoordelikheid geneem vir beide die Abuja- en Warri-aanvalle.
- Reuters