Nuwejaarsbom was waarkynlik selfmoord-aanval
2011-01-02 15:26
Alexandrië - 'n Selfmoord-bomaanvaller met kontakte in die buiteland was waarskynlik verantwoordelik vir die bomaanval op 'n Koptiese kerk in Alexandrië, Egipte wat op Nuwejaarsdag die lewens van 21 mense geëis het, het die Egiptiese ministerie van binnelandse sake gesê.
Ná ondersoek ingestel is op die toneel van die aanval het owerhede gesê "dis waarskynlik dat die bom wat ontplof het deur 'n selfmoord-aanvaller gedra is wat in die skare was toe dit ontplof het".
Die bom is gevul met stukke metaal om die ergste moontlike skade aan te rig.
Daar is aanvanklik berig dat 'n motorbom in die aanval gebruik is.
Die omstandighede rondom die aanval dui daarop dat, "gegewe die metodes wat tans deur terroriste op globale en streeksvlak gebruik word" die aanval waarskynlik "beplan en uitgevoer is deur oorsese terroriste," het die ministerie gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP