Nuwejaars-aanval in Egipte eis 21
2011-01-01 08:31
Kaïro - 'n Motorbom wat in die Egiptiese stad Alexandrië voor 'n Koptiese kerk ontplof het terwyl mense ná 'n Nuwejaarsdiens die gebou verlaat het, het die lewens van minstens 21 mense geëis, het amptenare gesê.
Woedende Christene wat ná die ontploffing uit die gebou gestroom het, het met die polisie slaags geraak en ook 'n nabygeleë moskee bestorm.
Dit het gelei tot 'n klipgooiery tussen Christene en Moslems, het die polisie en ooggetuies gesê – 'n duidelike teken van die onenigheid en woede wat in die laaste maande in verskeie dele van Egipte opgevlam het.
Sowat 1 000 Christene het die diens by die Saints-kerk in die Mediterreense hawestad Alexandrië bygewoon, het 'n priester by die kerk, vader Mena Adel, gesê. Die diens het pas tot 'n einde gekom, en kerkgangers was besig om die gebou te verlaat toe die bom ongeveer 'n halfuur na middernag ontplof het.
"Ek was binne die kerk en het 'n groot ontploffing gehoor," het Adel aan die AP-nuusagentskap gesê. "Mense se liggame was in vlamme gehul."
Die bom was in 'n motor buite die kerk geplant, maar die polisie is steeds besig om vas te stel of die motor vol plofstof was, en of 'n bom later onder die motor geplant is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP