Nuwe grondwet, kabinet vir Angola
2010-02-05 02:53
Luanda – Angola se president, Jose Eduardo dos Santos, het Woensdag sy nuwe kabinet aangekondig, terwyl die land se parlement terselfdertyd veranderinge in die grondwet goedgekeur het wat sy 30 jaar lange termyn nog langer sal laat duur.
Onder die nuwe wet sal direkte presidensiële verkiesings uitgeskakel word, met die leier van die party met die meeste stemme in die wetgewende verkiesing wat eenvoudig as president aangestel word.
In 2008 het Dos Santos se MPLA (Popular Movement for the Liberation of Angola) die land se eerste wetgewende verkiesing in 16 jaar gewen, wat beteken dat daar eers in 2012 weer 'n verkiesing sal wees.
As gevolg van die wetsveranderinge is die presidensiële verkiesing wat in 2010 sou plaasgevind het, nou gekanselleer.
Die president van die Nasionale Vergadering, Fernando da Piedade Dias Dos Santos, het gesê die nuwe wet "respekteer die basiese beginsels, waarborge, regte en vryheid van burgers en sal 'n regverdige samelewing skep".
Opposisie party UNITA (Union for the Total Independence of Angola) het die verandering egter skerp gekritiseer, en sê die regerende party is besig om die meerderheidstem te misbruik om demokrasie te vernietig.
Fernando da Piedade Dias dos Santos, voormalige eerste minister en tans die president van die Nasionale Vergadering, is as vise-president aangewys, terwyl die huidige eerste minister, Paulo Kassoma, nou president van die parlement is.
–Sapa-AFP