Egipte: Noodvergadering belê ná sokker-onluste
2012-02-02 08:55
Kaïro – 'n Noodkabinetsvergadering is belê oor die geweld by 'n sokkerwedstryd in Port Said, Egipte waartydens 74 mense dood en sowat 'n 1 000 beseer is.
Die regerende militêre raad het vroeër 'n onmiddellike ondersoek gelas na die sokkerstormloop toe ondersteuners van die tuisspan, die ondersteuners van 'n sokkerspan van Kaïro aangeval het.
Sewe-en-veertig mense is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die stormloop het gebeur toe ondersteuners van die twee sokkerspanne mekaar aangeval het kort nadat die skeidsregter die eindfluitjie geblaas het.
Die tuisspan Al-Masri het die span van Kaïro, Al-Ahly met 3-1 geklop waarna ondersteuners van die tuisspan op die veld gehardloop en die besoekers met stokke en klippe bestook het.
Mense het paniekerig geraak en mekaar vertrap.
Weermagtroepe is intussen ontplooi en hou die situasie dop.
– RSG.
– Volg Nuus24 op Twitter.