Nóg stakings vir Nigerië
2012-01-16 10:19
Abuja – Nigerië het Maandag gereedgemaak vir nog stakings ná onderhandelings om ‘n dispuut rakende brandstofpryse op te los 'n dooie punt bereik het.
Nietemin het die land se vakbonde besluit om straatbetogings af te las as gevolg van kommer oor sekuriteit.
Dit was nie duidelik watter uitwerking die vakbonde se versoek om betogings te beëindig, sal hê nie, aangesien verskeie burgerlike en politieke groepe ook in die afgelope week betogings gereël het.
Pres. Goodluck Jonathan het laat Sondag probeer om ‘n ooreenkoms met arbeidsleiers te sluit wat daarop gemik is om ‘n landwye staking, wat dreig om Afrika se grootste olievervaardiger te sluit, tot ‘n einde te bring.
Vakbonde het nie die staking ná die gesprekke afgelas nie, maar sê hulle kanselleer straatbetogings nadat Jonathan kommer uitgespreek het oor veiligheid.
Die hoof van die Nigeria Labour Congress, Abdulwahed Omar, het gesê Jonathan het oor “ernstige sekuriteitsvoorvalle” gepraat.
“Ons het tot die slotsom gekom dat ons by die huis sal bly, van die strate af, om te verseker dat ons nie onskuldige lewens in gevaar stel as gevolg van die veiligheidsituasie in die land nie,” het Omar aan Channels-televisie gesê.
Op ‘n vraag of die staking sal voortduur het hy “ja” geantwoord, maar bevestig dat die straatbetogings vir eers gekanselleer is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP