Nóg 1 400 Zimbabwiërs werkloos
2009-10-08 20:38
Harare – Die grootste tekstielmaatskappy in Zimbabwe gaan toemaak, met minstens 1 400 mense wat hul werke gaan verloor.
David Whitehead Textiles het voorlopig ‘n aansoek vir likwidasie by die hooggeregshof ingedien.
Die maatskappy vervaardig tekstielprodukte, asook gedrukte en gekleurde materiaal. Hulle kan glo nie meer bekostig om werknemers se salarisse te betaal nie, ná Zimbabwe se National Employment Council salarisse in die tekstielbedryf met 66% verhoog het.
‘n Toename in elektriese koste het ook tot die maatskappy se finansiële probleme bygedra, en hulle is tans in groot kompetisie met materiaal wat goedkoper ingevoer word.
Indien dié maatskappy sy deure sluit, sal dit na verwagting soortgelyke maatskappye negatief kan beïnvloed.
- Sapa-AP