Nigeriese senator trou glo met 13-jarige
2010-04-29 15:32
Abuja – Nigerië se senaat het Woensdag gevra dat ‘n ondersoek geloods word na ‘n prominente wetgewer wat glo met ‘n 13-jarige Egiptiese meisie getrou het.
Die land se menseregtewaghond en 10 ander groepe het hom daarvan beskuldig dat hy Nigerië in die skande gesteek het.
'n Petisie deur die 11 groepe is aan die parlement oorhandig deur die voorsitter van die senaat-komitee vir vrouesake en jeugontwikkeling, senator Eme Ufot Ekaette.
Talle vrouegroepe het Dinsdag ‘n betoging buite die parlement gehou waarin hulle die senaat vra om die saak te ondersoek.
Volgens mediaberigte het die 49-jarige senator Ahmed Sani Yerima glo $100 000 (R745 000) as bruidskat betaal en by die nasionale moskee in Abuja met die onbekende tiener getrou.
“Die menseregtegemeenskap in Nigerië en ander lande het hul kommer en ontsteltenis uitgespreek oor die beweerde aksies van die vooraanstaande senator, wat gesien word as beide afkeurenswaardig en sigbaar onwettig,” het die petisie gesê.
Dit het verder gesê dat die huwelik Nigerië se wet op kinderregte van 2003 oortree. Dié wet verbied ‘n huwelik met enige persoon onder die ouderdom van 18.
Die straf is ‘n boete van 500 000 naira (R24 500) of ‘n tronkstraf van vyf jaar, of beide.
- AFP
Volg Nuus24 op Twitter