Nigeriese sekte skiet twee kaartspelers dood
2011-06-20 13:42
Kano – Vermeende lede van ‘n radikale Islamitiese sekte wat ‘n bomaanval op die Nigeriese polisiehoofkantoor uitgevoer het, het Sondag op ‘n groep kaartspelers losgebrand.
Twee mense is in die aanval in die noorde van die land dood, het ‘n senior militêre beampte gesê.
Twee gewapende mans op motorfietse, wat vermoedelik lede van die Boko Haram-sekte is, het op ‘n groep mense geskiet wat kaart gespeel het buite ‘n huis in Maiduguri, waarna hulle in agterstrate verdwyn het, het die beampte, wat anoniem wil bly, gesê.
“Die groep mans het kaart gespeel onder ‘n boom buite ‘n huis toe twee mans op ‘n motorfiets, wat glo lede van Boko Haram is, twee mense doodgeskiet en vyf ander ernstig beseer het,” het die beampte aan AFP gesê.
“Die aanval was tipies aan Boko Haram se (skiet-en-vlug)-styl,” het hy bygevoeg.
Boko Haram het verlede week skuld erken op Nigerië se eerste selfmoordbomaanval waarin verskeie mense by die polisie-hoofkantoor in die hoofstad Abuja dood is.
Die sekte het sedert verlede jaar regeringsgeboue, politieke leiers, kerke en kroeë geteiken. Talle mense is al in die aanvalle dood.
Kaartspeel is ‘n algemene tydverdryf onder jong mans in die snikheet Maiduguri en talle ander noordelike stede, waar vriende in die middag onder bome kuier en speel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP