Nigeriese 'seksslawe' in Mali gered
2011-11-16 11:46
Abuja – Altesaam 104 Nigeriese burgers, meestal vroue, is uit Mali gered nadat hulle gedwing is om as “seksslawe” te werk of betrokke by mensehandel was, het beamptes Dinsdag gesê.
Die nasionale agentskap vir die voorkoming van mensehandel (Naptip) het 93 beweerde slagoffers van mensehandel, nege verdagte handelaars en twee babas ontruim, het Beatrice Jedy-Agba, die hoof van die agentskap, gesê.
Die babas, tussen die ouderdom van ses maande en ‘n jaar, is in Mali gebore, het sy gesê.
Volgens Jedy-Agba is die mense Saterdag ontruim nadat ondersoeke deur die agentskap aangedui het dat “Nigeriese meisies vir sowat twee miljoen naira (sowat R100 000) verkoop is en gedwing is om as seksslawe te werk.”
Die ondersoeke het in September verlede jaar begin.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP