Nigeriese regering, vakbonde ‘sal vinnig moet skik’
2012-01-14 09:58
Londen – Die wêreld sal groot probleme met olievoorraad ondervind, soos tydens die Libiese konflik, indien olieproduksie in Nigerië weens ’n staking gestop sou word, maan kenners.
Die grootste vakbond in die Nigeriese oliebedryf het gedreig om olieproduksie van môre te staak indien die regering nie sy besluit herroep om die subsidie op brandstof op te hef nie. Brandstofpryse vir gewone inwoners het ná dié besluit meer as verdubbel.
Vakbonde het gister aangekondig dat die staking vandag en môre opgehef is en dat dit Maandag sal voortgaan. Hulle het gesê lughawens sal heropen word sodat amptenare vir onderhandelings na Abuja kan vlieg.
Amptenare by internasionale oliemaatskappye met Nigeriese kontrakte is oortuig dat die regering en vakbonde binnekort ’n ooreenkoms sal bereik. Hulle sê die regering kan nie bekostig om sy olieverdienste te verloor nie.
Nigerië, met sy hoëgehalte-ruolie, voer sowat 2 miljoen vate olie per dag uit na onder meer Amerika, Europa en Asië teen ’n geraamde $250 miljoen (R2 miljard) per dag.
Selfs al word olieproduksie net vir ’n kort tydperk gestaak, sal dit die pryse van ander hoëgehalte-olie die hoogte laat inskiet.
“Enige staking van olieproduksie sal pryse opstoot,” het ’n oliehandelaar by ’n groot Amerikaanse bank gesê.
“Dit sal dieselfde wees soos tydens die Libiese konflik,” het ’n Europese handelaar gesê.
“Die staking van olie-uitvoere sal katastrofies vir Nigerië wees,” het ’n senior beampte by ’n Amerikaanse oliemaatskappy met Nigeriese kontrakte, wat anoniem wil bly, gesê. “Ons verwag redelik vinnig ’n kompromie.”
Duisende Nigeriërs het gister vir ’n vyfde dag gestaak en betoog.
Intussen is twee mense dood en moskees en huise afgebrand in ’n aanval Donderdagnag in die hoofsaaklik Moslem-gebied Gwalam in die noordooste van die land.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger