Nigeriërs woedend oor hemelhoë petrolprys
2012-01-03 16:00
Lagos – Woedende motoriste in Nigerië betaal van Maandag af meer as twee keer soveel vir brandstof nadat die regering stilweg die brandstofsubsidie opgehef het.
Die regering het die aankondiging oor die skrapping van die subsidie oor 'n langnaweek gedoen en verbruikers het dit Maandag vir die eerste keer by brandstofpompe aan hulle beursies gevoel.
Vorige pogings die afgelope twee dekades om die brandstofsubsidie te skrap het tot landwye betogings gelei.
Vrese bestaan nou dat die prys van basiese goedere ook gaan styg.
Groepe betogers het na petrolstasies opgeruk en eienaars gedwing om nie petrol teen die nuwe prys te verkoop nie. Dit is meer as dubbel die prys wat verbruikers ‘n paar dae gelede betaal het.
‘n Hoofpad in Lagos is deur betogers versper en ‘n groot brand het motoriste gedwing om van ‘n alternatiewe roete gebruik te maak.
Die spanning loop reeds hoog in Nigerië nadat Goodluck Jonathan, die president, die naweek 'n noodtoestand in dele van die land afgekondig het weens geweld deur die ekstremistegroep Boko Haram.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG
- Sapa - AP