Nigeriër sluk dwelms, sterf op vlug
2011-08-06 21:11
Lagos – Owerhede sê 'n 25-jarige Nigeriese man wat metamfetamien na Maleisië probeer smokkel het, is tydens 'n vlug dood ná hy 'n kilogram daarvan ingesluk het.
Volgens 'n verklaring deur die Nigeriese Nasionale Dwelmwetstoepassings-agentskap het Chilaka Ogbonna Emmanuel se dood die bemanning van die vlug vanuit Doha in Katar gedwing om 'n noodlanding in Indië te maak, waar 'n outopsie Vrydag gedoen is.
Volgens die agentskap het Emmanuel se reis Dinsdag by Lagos se Murtala Muhammed Internasionale Lughawe begin.
Dwelmhandelaars maak gereeld van die dienste van smokkelaars uit Nigerië gebruik om dwelms van dié Wes-Afrika-land na Europa, die VSA en ander lande te smokkel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP