Nigerië verklaar hul steun aan oorgangsraad
2011-08-25 08:30
Pretoria – Nigerië het die eerste Afrika-lidland van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad geword wat amptelik verklaar het hy erken die Nasionale Oorgangsraad (NOR) nou as die regering van Libië.
Die regering van pres. Goodluck Jonathan het hom daarmee aangesluit by verskeie lande wat kol. Muammar Gaddafi finaal die rug toegekeer het.
Dié lande sluit Amerika, Brittanje, Italië, Frankryk, Spanje, Australië, Duitsland en verskeie Islamitiese lande waaronder Turkye, Katar, Koeweit, Egipte, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate in.
Al dié lande en die Europese Unie as ’n ekonomiese blok het reeds onderneem om met die heropbou van Libië te help.
Suid-Afrika en Gaboen, die ander twee nie-permanente Afrika-lede van die Veiligheidsraad, moet nog standpunt oor hul erkenning van die NOR inneem nadat rebelle Tripoli ingeneem en Gaddafi verdryf het.
Pres. Jacob Zuma het Dinsdag nog geweier om dit te doen.
Alles dui daarop dat Afrika-leiers wat Donderdag in Addis Ababa, Ethiopië, byeenkom om die Afrika-Unie (AU) se toekomstige rol in Libië te bespreek, met verdeeldheid in eie geledere te make gaan hê.
Afrika se twee reuse, Suid-Afrika en Nigerië, is lankal haaks oor die hantering van verskeie brandpunte in Afrika.
Zuma woon die buitengewone vergadering van die AU se Vredes- en Veiligheidsraad by nadat hy opnuut skerp kritiek gelewer het teen die wyse waarop Navo-bomaanvalle gehelp het om die Gaddafi-bewind se ondergang te bewerkstellig.
Nigerië, Suid-Afrika en Gaboen het die VN-veiligheidsraad se besluit vir militêre optrede teen Gaddafi vroeër vanjaar gesteun, maar slegs die Zuma-regering het sedertdien by herhaling kritiek daarteen gelewer.
Die AU-beraad se taak word verder bemoeilik deurdat verskeie Libiese ambassades in die wêreld hul steun die afgelope twee dae aan die oorgangsraad toegesê het.
Die rebellevlag het Woensdag buite Libiese ambassades in die Filippyne, Japan, Switserland, Bangladesj en ook in Addis Ababa self begin wapper waar die Libiese ambassadeur, Ali Awidan, verklaar het hy “dien Libië en nie Gaddafi nie”, berig Sapa-AP.
Gaddafi het die Libiese ambassade in Addis Ababa, die hoofsetel van die AU, grootliks gebruik om sy droom van ’n “Verenigde State van Afrika” te propageer en om die AU grootliks te finansier.
Intussen het ’n groep van 140 Suid-Afrikaanse akademici en ander meningsvormers gister ’n skerp bewoorde verklaring uitgereik waarin Navo se optrede as “buite verhouding” veroordeel word.
Die groep, onder wie dr. Chris Landsberg en Vusi Gumede, Wally Serote en David Maimela, het daarop aangedring dat Navo sy “oorlog van aggressie” teen Libië onmiddellik staak, dat die AU-plan vir vrede en demokrasie in Libië gesteun word en dat die VN-veiligheidsraad sy verpligtinge teenoor Libië nakom.
Na verneem word, lei Brittanje en Frankryk tans ’n nuwe diplomatieke inisiatief vir ’n nuwe VN-veiligheidsraadbesluit wat die Libiese NOR amptelik as die nuwe regering erken. ’n Sitting van dié raad word vir Dinsdag beplan.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad