Nigerië: Vier dood na aanval op polisiestasie
2011-09-13 11:06
Bauchi – Vier polisiebeamptes is dood nadat gewapende mans ‘n polisiekantoor in die noorde van Nigerië aangeval en van die gevangenes vrygelaat het, het ‘n polisiehoof gesê.
“Daar was ‘n aanval deur onbekende gewapende mans by ‘n polisiekantoor in Misau. Vier polisiebeamptes is tydens die aanval dood,” het Ikechukwu Aduba, die polisiehoof in die Bauchi-staat, gesê.
“Die aanvallers het ook twee tuisgemaakte bomme in die polisiekantoor laat ontplof, waarna 'n brand ontstaan het,” het hy gesê.
Aduba het geweier om te sê of daar enige burgerlike slagoffers was. Hy wou ook nie kommentaar lewer oor die gerugte dat gevangenes vrygelaat is nie. Hy het glo self nog vir die nuutste inligting oor die aanval gewag.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP