Nigerië: Tientalle dood in aanvalle
2011-11-05 12:00
Kano, Nigerië – Tientalle mense is dood en minstens 100 is beseer in bom- en skietaanvalle in Nigerië se noordoostelike stad Damaturu, het getuies Saterdag gesê.
Die aanvallers het laat Vrydagaand die polisiehoofkwartiere, drie ander polisiestasies en verskeie kerke in die stad geteiken.
Dit het gevolg na soortgelyke aanvalle in ‘n ander stad wat reeds die teiken van aanvalle deur ‘n Islamitiese sekte was.
‘n Prokureur wat die Damaturu Staatshospitaal Saterdagoggend besoek het om na ‘n vermiste vriend te soek, het gesê ht het 60 lyke in die lykshuis getel.
“Ek het 60 lyke in die hospitaal gesien. Almal is gister ná die aanvalle ingebring,” het die prokureur, wat gevra het om anoniem te bly, telefonies aan AFP gesê.
“Ek is hier om vir my vriend te soek wat nie gister teruggekeer het huis toe nie.”
Hy het gesê angstige familielede het in die hospitaal rondgestap, op soek na geliefdes.
Amptenare was nie onmiddelik beskikbaar vir kommentaar nie.
Gewapende mans het polisiestasies en kerke met bomme aangeval, waarna hulle in skietgevegte met sekuriteitsmagte betrokke geraak het.
Dit was slegs ure ná ‘n selfmoordaanval ‘n weermagbasis in die noordoostelike stad Maiduguri geruk het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP