Nigerië: Tienduisende betoog oor rolprent
2012-09-22 21:06
Kano, Nigerië – Tienduisende mense het Saterdag in die Nigeriese stad Kano aan betogings deelgeneem om protes aan te teken teen die omstrede rolprent Innocence of Muslims, wat onder andere met die profeet Mohammed die spot dryf.
Betogers het foto's van pres. Barack Obama van die VSA verbrand en Amerikaanse vlae vertrap as deel van die optog.
'n Skare mans, vroue en kinders het in die stad saamgedrom in 'n prosessie wat kilometers ver deur die strate gestrek het. Kano is die grootste stad in die noorde van Nigerië, wat hoofsaaklik 'n Moslemgebied is.
"Die dood vir Amerika, Israel en die vyande van Islam," het betogers gedreunsing.
Die betoging is gereël deur die Islamic Movement of Nigeria, wat sedert die laat 1970's in Nigerië aktief is.
"Ons is vandag hier om ons woede... oor hierdie godslasterlike rolprent te wys," het Muhammed Turi, 'n protesleier wat vroeër dié week 'n soortgelyke betoging in die noordelike stad Zaria gereël het, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA