Nigerië: Ses dood tydens aanval in kerk
2012-01-06 10:32
Kano – Ses mense is Donderdag dood en tien beseer nadat gewapende mans lukraak op ‘n kerkdiens in Nigerië geskiet het, het die kerk se pastoor gesê.
Dit is die nuutste in ‘n reeks aanvalle wat moontlik deur Boko Haram, ‘n Islamitiese sekte, uitgevoer is.
“Die aanvallers het sporadies begin skiet. Hulle het deur ‘n venster van die kerk geskiet en talle mense, insluitend my vrou, is dood,” het pastoor Johnson Jauro gesê.
Die aanval het by die Deeper Life-kerk in Nasarawe, in die Gombe-staat in die noorde van Nigerië, gebeur.
“Talle van die kerklede wat die diens bygewoon het, is ook beseer.”
Die aanval het gevolg op ‘n waarskuwing van Boko Haram dat Christene drie dae het om die noorde van Nigerië, wat hoofsaaklik Moslems is, te verlaat of vermoor te word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters