Nigerië: Ons het geweet van bomgevaar
2010-10-04 12:11
Lagos - Owerhede in Nigerië was bewus van die bomdreigemente deur die militante groep MEND etlike dae voor twee motorbomaanvalle die hoofstad Abudja verlede week geruk het.
'n Intelligensiewoordvoerder, Marilyn Ogar, het Sondag gesê MEND het voor Vrydag se bomaanvalle gesê die groep "sou seker maak dat hulle aktiwiteite rondom die herdenking van die land se onafhanklikheidswording deurmekaargooi."
Volgens Ogar het MEND "'n paar goed op die internet geplaas en papiertjies uitgedeel."
Die woordvoerder wou egter nie enige besonderhede bekendmaak oor presies waar of wanneer die papiere uitgedeel is nie.
'n Waarskuwing is egter op 'n Nigeriese nuuswebwerf geplaas, het sy gesê.
"Dit was nie 'n geheim nie," het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.