Nigerië: Huis tot huis om wapens in te samel
2011-11-03 11:35
Maiduguri – Nigeriese veiligheidsmagte het begin om huise in die Borno-staat te deursoek vir wapens nadat ‘n wapenamnestie vir militante Islamiete op 31 Oktober verstryk het, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.
Kol. Mohammed Hassan, woordvoerder vir die gemeenskaplike militêre taakmag in Borno, het gesê die doel van die operasie is om geweld in dié staat te probeer verminder omdat dit gebuk gaan onder skiet- en bomaanvalle deur die militante groep Boko Haram.
“Ons het begin om van huis tot huis te gaan en na onwettige wapens te soek. Dinsdag was die spertyd vir die publiek om alle wapens in hulle besit te oorhandig,” het Hassan gesê.
“Die doel is om ‘n einde aan die aanhoudende aanvalle deur Boko Haram te bring.”
Boko Haram, wie se naam “Westerse onderrig word verbied” beteken, was in die afgelope jaar vir talle aanvalle verantwoordelik wat meestal openbare en godsdienstige figure geteiken het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters