Nigerië: Gewapende mans val Christen-dorpie aan
2012-08-24 18:46
Jos – Gewapende mans, wat daarvan verdink word dat hulle etniese Fulani-herders is, het ‘n Christen-dorpie aangeval en twee mense doodgeskiet.
“Die twee mans is op pad na hul plaas aangeval en doodgeskiet,” het Abuh Emmanuel, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, gesê.
Hy het bygevoeg dat niemand al in hegtenis geneem was ná die aanvalle in die dorpie Sho nie.
Mark Lipido, hoof van ‘n plaaslike nie-regeringsorganisasie, die Stefanos-stigting, het gesê die aanvallers het ook verskeie landerye vernietig.
“Hulle het die dorpie ook binnegekom en mense aangeval. Een inwoner is in sy been geskiet,” het hy bygevoeg.
Sho is in Nigerië se Plato-provinsie, waar Nigerië se noordelike Moslem-gebied by sy suidelike Christen-gebied bymekaar kom.
Hierdie streek is ook die afgelope tyd deur die Islamitiese groep Boko Haram aangeval.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA