Nigerië: Bom ontplof ná vredepaneel gevorm is
2011-08-03 16:24
Maiduguri – Vermeende Islamiete het ‘n bom in die noord-ooste van Nigerië laat ontplof en was in ‘n skietgeveg met troepe betrokke, het die weermag gesê nadat die regering ‘n paneel gevorm het om na die geweld in dié streek te kyk.
Geen slagoffers is in Maiduguri aangemeld nie, maar ‘n verpleegster by ‘n hospitaal het gesê iemand met ‘n skietwond is ná die geveg opgeneem, het ‘n woordvoerder van die weermag gesê.
Die gebied word vir die afgelope paar maande met geweld geteister. Dit word op ‘n Islamitiese sekte bekend as Boko Haram blameer. Die sekte beweer dat hulle ‘n Islamitiese staat in Nigerië wil vestig.
“Die bom het by die Gomari-kruising ontplof maar gelukkig was daar geen slagoffers nie,” het Hassan Isijeh Mohammed, die woordvoerder van die weermag, gesê.
Toe die soldate op die toneel kom, “het die aanvallers, wat van Boko Haram verdink word, op hulle begin skiet. Die troepe het teruggeskiet toe vlug die aanvallers. Niemand is in hegtenis geneem nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP