Bende vermoor 19 in Nigerië
2011-10-03 13:02
Kano – Ten minste 19 mense is dood en talle huise is afgebrand nadat ‘n bende op 'n dorp in die noorde van Nigerië met gewere en pangas toegeslaan het, het die polisie Sondag gesê.
Volgens die polisie het ‘n groep van 150 aanvallers Lingyado, ‘n plaasdorp in die Zamfara-staat, Saterdag aangeval. Hulle het 19 mense doodgemaak en ses ernstig beseer.
“Ons kan die dood van 19 mense deur gewapende mans tydens ‘n aanval in Lingyado bevestig. Hulle wou glo die dood van een van hulle bendelede, deur ‘n lid van die plaaslike buurtwag, wreek,” het Tambari Yabo, die staatspolisie se kommissaris, gesê.
Die buurtwag het vroeër 'n groep gewapende mans, wat vermoedelik diewe was, aangeval, het Yabo gesê.
Talle huise en voertuie is tydens die aanval aan die brand gesteek.
Die polisie is na die omgewing ontplooi maar niemand is in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP