Niger se president ontvoer
2010-02-20 08:21
Niamey – Gewapende soldate het gister die presidensiële paleis hier al skietende bestorm en pres. Mamadou Tandja weggevoer.
’n Chauffeur by die paleis het gesê die gewapende mans het daar opgedaag terwyl ministers vergader het. Volgens ’n plaaslike joernalis wat by die paleis werk, is die president weggevoer en niemand weet waar hy hom bevind nie.
Tandja (71) is al langer as ’n dekade aan die stuur en het ’n paar maande gelede sy termyn deur ’n omstrede referendum verleng.
Sedertdien is Niger afgesny van die internasionale wêreld.
Vroeër het soldate skote in die hoofstad afgevuur in wat deur Franse amptenare beskryf is as ’n gepoogde staatsgreep teen Tandja.
Die staatsbeheerde radio was tjoepstil oor die gebeure en het tradisionele musiek gespeel te midde van die hernieude spanning in dié uraanryke Wes-Afrikaland.
Frankryk het sy burgers aangeraai om tuis te bly.
“Daar is ’n staatsgreep aan die gang,” het ’n Franse beampte op voorwaarde van anonimiteit aan AFP vertel. “Al wat ek kan sê, is dat Tandja oënskynlik nie in ’n goeie posisie is nie.”
Ecowas, ’n streekorganisasie, het Niger geskors nadat Tandja die parlement opgeskort en in Oktober ’n algemene verkiesing gehou het. Dit is gevolg deur die staking van ontwikkelingshulp deur die EU en Amerika, wat sanksies ingestel het.
Samesprekings tussen die regering en die opposisie om die politieke twispunt te beëindig is verlede week opgeskort nadat dit al sedert die begin daarvan op 21 Desember herhaaldelik onderbreek is.
- Sapa
- Die Burger