Niger: Junta neem eks-ministers in hegtenis
2010-03-30 11:41
Talle ondersteuners en kollegas van die voormalige president van Niger, Mamadou Tandja, is deur die militêre junta in Niger in hegtenis geneem.
Tandja is in Februarie uit sy amp gestoot tydens 'n staatsgreep.
Volgens ‘n bron in die polisie, wat onbekend wou bly, is die voormalige amptenare in hegtenis geneem op aanklagte van “rewolusionêre aktiwiteite”.
Die amptenare, asook sekere voormalige ministers, is Sondag in hegtenis geneem, maar die details van hul “rewolusionêre aktiwiteite” is nog nie bekendgemaak nie.
Ali Lamine Zene, voormalige minister van finansies, en Garba Lompo, voormalige minister van justisie, is onder andere in hegtenis geneem.
Verskeie maatskappydirekteure is ook onder arres.
Radiouitsendings het Maandag gewaarsku dat geen pogings om die vorige regime te herstel deur die militêre junta geduld sal word nie.
– Sapa