Nestlé: Ons moes Mugabe-melk koop
2009-09-29 03:42
Johannesburg - Nestlé Zimbabwe het Maandag gesê die maatskappy was "gedwing" om melk by die Gushungo suiwelplaas te koop.
Dit het die naweek aan die lig gekom dat Grace Mugabe, vrou van president Robert Mugabe, suiwelplase besit wat soveel as ‘n miljoen liter melk per jaar aan Nestlé verskaf.
Grace Mugabe het in 2002 ses van die land se waardevolste plase in wit-besit oorgeneem, waarvan Gushungo een van die prominentste was, het die Sunday Telegraph die naweek uit Londen berig.
"Nestlé is vroeër die jaar geforseer om melk op die ope mark by ’n verskeidenheid verskaffers te koop," het ’n woordvoerder vir Nestlé, Ravi Pillay, Maandag in ’n verklaring gesê.
Gushungo verskaf soveel as 15% van Nestlé Zimbabwe se melk, het Pillay gesê.
Die Switserse maatskappy het gesien hoe die Zimbabwiese suiwelindustrie oor die afgelope paar jaar in duie stort.
Sestien produsente, wat kontraktueel melk aan Nestlé verskaf het, se besighede het misluk, daarom moes die maatskappy sy melk op die ope mark verkry.
Op die manier het Nestlé melk by Grace Mugabe se plase begin koop, lees die verklaring.
Nestlé oorweeg egter nie om hulle aan Zimbabwe te onttrek nie, het Pillay gesê, omdat die maatskappy ten doel stel om in die behoeftes van die gemeenskap te voorsien.
"Sou Nestlé aan Zimbabwe onttrek, sou dit verdere voedseltekorte en werksverlies in die reeds sukkelende land veroorsaak."
- Sapa