Nederlandse boere eis R250 miljoen van Zim
2012-10-03 16:47
Kaapstad – Nederlandse boere wat tussen 2000 en 2002 van hul grond in Zimbabwe weggeneem is, het ‘n veldtog begin om die Zimbabwiese regering te dwing om hulle te vergoed.
Radio Nederland berig die boere het hul saak by die internasionale raad van nywerheidsontwerpgenootskappe (ICSID) ingedien.
Die ICSID het in 2009 in hul guns beslis en Zimbabwe beveel om €8,8 miljoen (sowat R74 miljoen) aan die boere te betaal. Daar moet ook 10% bygevoeg word vir elke jaar ná die boere weggeneem is.
Volgens die verslag is die groep nou al geregtig op €23 miljoen (sowat R250 miljoen) en die Nederlandse regering het die afgelope twee jaar druk op Zimbabwe gesit om hierdie bedrag te betaal.
‘n Spesiale groep afgevaardigdes is aangestel om met Zimbabwe se amptenare te onderhandel.
Tendai Biti, Zimbabwe se minister van finansies, het vroeër vanjaar belowe om ‘n betalingsvoorstel saam te stel, maar het tot op hede dit nog nie gedoen nie, ten spyte daarvan dat die Nederlandse regering hom in ‘n brief gevra het om dit te doen.
“Ons wou al vroeër stappe neem, maar het besluit om te wag vir Biti se voorstel,” het die groep se voorsitter, Lion Benjamins, gesê.
“Ons is nou siek gewag en ons het nou besluit om stappe te neem om vir Zimbabwe te wys dat ons ernstig is.”
Die groep het hul eie webtuiste geskep en dring daarop aan dat die Europese Unie nie hul sanksies op Zimbabwe lig voordat hul vergoeding betaal is nie.
– News24
– Volg Nuus24 op Twitter